[56] Piet Steyn – Nuus

PietSteyn 140717a

Beste familie en vriende,

Ek wil hierdie nuusbriefie wy aan ʼn oorsig oor die bediening. Volgende keer vertel ek van die gesin en familie en hoe dit met ons persoonlik gaan.

Suid Afrika
Dit is al reeds vir ʼn geruime tyd dat ons besef dat die toerusting wat ons in die buiteland beskikbaar maak van net soveel waarde hier in Suid Afrika sal wees. Ons het al vir baie jare ʼn sterk fokus op dissipelmaking as invalshoek vir ons toerusting en het lankal ontdek dat mense wat gedissipel is soos wat Jesus met sy dissipels gewerk het, in staat is om dieselfde pad met ander te stap. Dissipels van Jesus het ook ʼn Koninkryksvisie en verstaan waar hulle en hulle geloofsgemeenskap in die groter prentjie van die gemeenskap en die wêreld inpas. Die eerste toetslopie was ‘m naweek werkswinkel in Bonnievale – en dit het behoorlik alle verwagtinge ten bowe gegaan! Dankie vir die Bonnievalers uit alle gemeenskappe wat meegemaak het. Die werkswinkel is nou deel van Kingfisher se toerustingspakket en die volgende een word in Namakwaland deur Piet en ʼn kollega aangebied, met net daarna ʼn geleentheid in Robertson wat Piet en Dekseltjie aanbied.

Die buitelandse bediening het die afgelope ses maande veral gefokus op die herskryf en herverpakking van materiaal in samewerking met ons buitelandse vennote in Oos Afrika, Wes Afrika en Indië. Dit bly maar ʼn voortgaande proses. Terwyl ons hulle begelei, kontekstualiseer hulle en van weerskante af leer ons uit die proses. Dit beteken ook dat ons hulle moet “speen” en nie meer elke opleiding gaan aanbied in die buiteland nie – hulle moet self leer doen en uit die ervaring leer. Wat uitstekend gewerk het was om die buitelandse leiers te begelei deur gereelde Skype afsprake. Hierdie afsprake word formeel aangeteken op die program en met net soveel erns en voorbereiding benader as wat ʼn persoonlike besoek sou impliseer. Dit is nie altyd maklik vir die buitelandse leiers om by ʼn internet konneksie uit te kom nie en soms moet ons maar herskeduleer as die internet ons in die steek laat. Ek wil van hierdie manne aan julle voorstel:

  • Samuel Adeleke woon in Dakar en benewens sy gemeentewerk, neem hy verantwoordelikheid vir ʼn groot deel van Wes Afrika, reis op eie koste om die wat opgelei is te begelei, en doen baanbrekerswerk om leiers te help om in ʼn omgewing waar daar baie min Christene is en Moslem ekstremiste dikwels groot dele beheer, te kan voortgaan om dissipels van Jesus te maak.
  • David Ige is ingebed in YWAM in ʼn Franssprekende land in Wes Afrika en gebruik ons toerusing oor disispelmaking om met jongmense onder ʼn mins ge-evangeliseerde groep ʼn pad te loop.
  • Stephen Karibira is ʼn finansiële beampte by ʼn staatsinstelling in Uganda, bedien sy gemeente Sondae, maar staan een naweek per maand af om geestelike leiers op die platteland toe te rus. Die toerusting strek oor ʼn tydperk van twee jaar en hy het meer as ʼn duisend mense toegerus, waarvan sommiges weer ander op hulle beurt gaan toerus het. Dit het ʼn beweging geword wat oor die landsgrense begin spoel het en as vrug kan getuig van gemeentes geplant is in areas waar daar baie min Christene is en baie geweld en bloedvergieting en selfs skole en klein besighede wat tot stand gekom het omdat mense nou anders dink oor hulle verhouding met God en hulle roeping waar die Here hulle geplaas het.
  • Andrew Nganga is ʼn gebedsmobiliseerder vir ʼn groot bedienignsorganisasie in Kenia, maar ook hy is al jare deel van ons span. Hy het al baie leiers van sy eie land opgelei asook geestelike leiers uit Somalië wat skuiling kom soek het in Kenia. Tans fokus hy op die toerusting van jong predikante wat met min opleiding en nog minder ervaring by die diep kant ingegooi is.
  • Anand Lal woon in Noord Indië. Hy het toegang tot ʼn reuse netwerk van inheemse kerkleiers uit Hindoe agtergrond wat klein huisgemeentetjies  onder die radarskerm lei in ʼn gebied waar daar nie baie ruimte is om openlik gemeentes te vestig nie. Dit wat ons aan hom toevertrou, die kontekstualiseer hy en leer dit vir letterlik duisende leiers van klein gemeentetjies.
  • Vachan Bhandari is ʼn senior kerkleier met aansien by die owerheid asook groot denominasies in Indië. Hy maak vir ons deure oop na groepe kerkleiers wat kan baat by ons opleiding.
  • Joseph Bwalya is ʼn dominee van Zambië en saam met sy span rus hy groepe predikante van middelgroote gemeentes toe om hulle gemeentes na buite te fokus.

Al hierdie manne doen hierdie werk uit eie koste en in hulle eie tyd. Hulle is deel van ons span en dink saam en besluit saam oor die koers wat Kingfisher se bediening moet inslaan. Ons is trots op hulle werk en leer baie by hulle. Ek sou baie meer oor hulle wou vertel, maar ter wille van hulle eie veiligheid
Voorbidding:
Piet vertrek DV  saam met ʼn kollega na Indië gedurende September vir die volgende opleidingsgeleenthede:

  • Mumbai – eerste blootstellingsgeleentheid met ʼn groep predikante met die tema Maak dissipels soos Jesus.
  • Goa – Tweede opleidingsgeleentheid met ʼn groep geestelike leiers van verskillende denominasies – die tema is hoe om van ʼn klein dissipelkring te skuif na ʼn dissipelmakende beweging wat met eie momentum voortgaan.
  • Punjab – eerste opleiding in dissipelmaking met ʼn groep geestelike leiers uit Sikh agtergrond.

Ons beplan ook die volgende besoeke vir die res van die jaar en moontlik begin volgende jaar:
Besoek aan Uganda – moontlik in Oktober of Desember met die fokus daarop om Stephen se leierspan verder toe te rus.
Besoek aan Zimbabwe en Zambië – ons hoop om die senior leiers saam te trek vir ʼn vyf dae op ʼn punt waar beide groepe kan uitkom.

Uitnodiging na Brazilië – ʼn groep gemeentes in Brazilië het van hulle vriende in Indië gehoor watter soort toerusting ons aanbied en voelers begin uitsteek. Toe hulle hoor dat Kingfisher destyds ontstaan het as vrug van ʼn sendingweek op Stellenbosch wat deurEdson Queiroz van Brasilië gelei is, kon niks hulle keer nie. Hulle maak geld bymekaar vir die kostes dáár, maar ons sal die fondse moet vind vir die vliegkaartjies.

Ons is vir lewensonderhoud sowel as vir bedieningskostes afhanklik van die vrye gawes van medegelowiges. Vir die moontlikhede hierbo genoem het ons nog nie fondse nie, maar vertrou dat wanneer die tyd reg is, die Here sal voorsien.

Groete

Piet Steyn

This entry was posted in Sendelinge ~ Nuus. Bookmark the permalink.

Leave a comment