2015-11-20 Biblia Hawesending

Biblia 151120a

 

 

 

 

 

 

REIK OP VIR DIE UITREIK

DESEMBER 2015

Liewe gebedsvriende,

Een van die blywendste indrukke van die jaar 2015, wat nou einde se kant toe snel, is dat daar ‘n intense honger na die Woord van God is.  Die besef wat posgevat het, is dat dit nodig geword het dat die Kerk (ek en julle), die lanings en stegies moet ingaan om die verlossende boodskap van die evangelie na die mense te bring.

Vir die meeste van ons is dit nou die tyd wanneer ‘n mens uitsien na die welkome, luilekker vakansie wat binnekort aanbreek. Vir baie, egter, is die Kerstyd ook ‘n tyd van diepe hartseer.  Maar vir ons as Christene bly dit – ten spyte van die hartseer van byvoorbeeld siekte of verlies – ‘n tyd van vreugde, want weereens kry ons die geleentheid om as Kerk van oor die wêreld die geboorte van ons Here Jesus Christus, die Verlosser en Saligmaker, te vier. Natuurlik is daar by ons van Biblia ook ‘n tikkie heimwee en hartseer oor van ons getroue ondersteuners wat gedurende die afgelope jaar oorlede is.

Terwyl ons besig is om introspeksie te hou oor die jaar wat verby is, wil ons ook vir die Here dankie sê dat Hy ons in 2015 gebruik het om  `n invloed op mense se lewe te hê. Ons dink aan al die geleenthede wat ons gehad het om die blye evangelie met mense te deel.

Martin se vrou, Elna, het ook in die jaar afgetree. Omdat die Werkloosheidversekering se kantore in die middestad van Port Elizabeth is, het Martin sy motor by Biblia geparkeer om saam met haar na die betrokke staatsdienskantore te gaan om al die nodige dokumentasie in orde te kry. Hy het ‘n klompie traktaatjies saamgeneem en, terwyl hy vir haar gewag het, het hy dit in die straat begin uitdeel. Die meerderheid traktaatjies was in Xhosa. Groot was sy verbasing toe mense eintlik na hóm toe gekom en gevra het vir meer geestelike leesstof in Engels en in Afrikaans! Daar het selfs mense na hom toe gekom om `n geestelike gesprek met hom te voer. Dit was veral hierdie betrokke dag dat hy  tot die besef gekom het dat daar ‘n honger na die Woord is en dat die Kerk  van Christus ‘n wye oesland op sy drumpel het. Dit kort net arbeiders om in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag uitvoering te gee.

By ‘n ander geleentheid was P.E. Hawe se rekenaarstelsel van lyn af en die vragmotorbestuurders in die hawe moes wag om hul vrag op te laai. Dit was vir Martin `n geleentheid om uit te reik na hulle. Hy het 80 evangeliese pakkette uitgedeel. Met die terugstap kantoor toe kon hy oral hoor hoe van die trokdrywers na die CD luister, terwyl hy kon sien hoe van die ander weer die traktaatjies lees. Weer eens het van die trokdrywers ekstra eksemplare gevra om dit ook aan hul kollegas te gaan uitdeel.

Al hierdie geleenthede het Martin voorberei vir een van die mees (as `n mens die woord kan gebruik) ongelooflike ervarings as Hawesendeling wat hy al ooit gehad het.

Een Donderdagoggend het hy die skip CS Princess besoek. Op die skip ontmoet hy die Tweede Ingenieur, Labay Fantonial.  Labay het vir Martin gevra vir Bybels, want hy het ‘n Bybelstudiegroep wat hy op die skip lei. Martin het toe Bybels voorsien en gevra of hy die Bybelstudie die Sondag kan lei. Martin het toe gegaan en met die bemanning gepraat oor die noodsaaklikheid van `n verhouding met Christus in jou lewe, na aanleiding van die Johannes Evangelie. . Al 17 van die bemanning wat die geleentheid bygewoon het, het toe vir Martin gesê.hulle het ‘n behoefte dat die Here in hulle lewe moet kom. Martin het toe nog 3 opvolgbesoeke aan die skip gedoen waar hy verder die bemanning begelei het. Aan die einde van die dag, toe die skip na China geseil het, was daar 17 bemanning wat die Here aangeneem het. Altesame 18 Bybels, 20 Evangeliese boekies, 18 “How to be filled with the Holy Spirit” -boekies en 15 Jesus DVD`s is saam China toe!

Aangesien daar 3 bemanningslede was wat in die tyd dat die skip in die hawe was, verjaar het, het Elna vir hulle `n koek gebak. Wat `n belewenis was dit nie om te kon sien wat `n tuisgebakte koek in geharde seevaarders se lewe kon doen! Die kok, Chicano Camposagrado, het vir Martin gesê: “Sir, in all my life as a seafarer it is the first time that somebody gave us a cake.” Fantonial het later vir Martin gesê: “Not all Seafarer Centres speaks to us about God, but your Centre is the Centre for Christ because you came on board and told us about Christ.’

Dit was met groot hartseer en tog ook met blydskap en ‘n diepe dankbaarheid dat daar afskeid geneem is toe die CS Princess vertrek het.

Bid asseblief vir die CS Princess.

Ons vra ook voorbidding vir al die seevaarders met wie ons deur die jaar die evangelie kon deel. Ons vind dat daar ‘n openheid vir die evangelie by die bemanningslede is wat van Myanmar af kom. Van hulle kom vra self vir Bybels en ander geestelike leesstof. Ook vind ons by talle geleenthede dat Chinese seevaarders vir `n Bybel kom vra.

Groot asseblief:  Bid dat die Here in Sy genade die reën sal stuur wat ons oor groot dele van ons land nodig het. Vir baie van die boere gaan dit nie ‘n baie vreugdevolle Kersfees wees nie as gevolg van die  onsettende droogte. Bid vir ons land se ekonomie en ook die skade wat die stakings veroorsaak. Ons ervaar dit in die hawens. Skeepvaart het geweldig afgeneem. Waar ons Coega-Hawe tot 5 keer per week besoek het, gebeur dit dat ons party weke glad nie Coega toe gaan nie.

VERSKONING

In ons vorige gebedsbrief het ons die verkeerde bankbesonderhede geplaas.

Ons besonderhede is …  Biblia Hawesending Absa Bank Rek nr 4060566177

Dankie dat ons op ons getroue vriende en gebedsgenote se voortgesette ondersteuning en voorbidding kan steun.

Namens al die Personeel van Biblia en “Seafarer Centre” wil ons u ‘n geseënde Christusfees en ‘n baie besonderse 2016 toebid. En mag u ervaar dat 2016 werklik vir u en u geliefdes die genadejaar van die Here sal wees.

Tot volgende keer.

Jesus-groete

Martin en Sus van Biblia.

Joy van “Seafarer Centre”

Keith van “Mission to Seafarers”

Posted in Uncategorized | Leave a comment

2015-10-24 Frits van der Merwe

Fritz 151024a Fritz 151024b Fritz 151024c Fritz 151024d

Posted in Uncategorized | Leave a comment

[59] Sam Selva Raj

001

Posted in Uncategorized | Leave a comment

[58] Nuusbrief – Piet Steyn

Vriende

Eers bietjie terugvoer:

Dekseltjie en die uwe was die afgelope vyf weke betrokke by ‘n groep egpare van Mooigezicht Landgoed hier in ons vallei. Dit het ‘n sessie elke Donderdagaand ingesluit asook ‘n vroegoggend geleentheid met die eienaar en bestuurders. Ons het die tema : “Maak dissipels soos Jesus” vanuit die evangeleie van Matteus hanteer – dieselfde materiaal wat ons met soveel sukses in die buiteland aanbied. Ons vertrou dat dit vrug sal dra en is steeds in gesprek oor moontlike opvolg.

Wat voorlê:
Ek vertrek DV Maandagoggend vroeg Indië toe vir ʼn volgende reeks afsprake om geestelike leiers toe te rus.

Die afsprake is ʼn opvolggeleentheid in Goa waar die fokus val op die uitbou van dissipelgroepe tot ʼn beweging, ʼn bekendstelling in Mumbai en ʼn drie dae opleiding in Amritsar vir pastore wat vanuit die Sikh agtergrond tot geloof gekom het en nou gemeentes lei. Niemand van hulle verstaan Engels nie, maar Anand Lal, een van ons medewerkers en toegeruste mobiliseerder, sal tolk. Dis dan sommer terselfdertyd gevorderde opleiding sodat hy in die toekoms self die toerusting kan behartig en dit deel van sy eie bedienign kan maak.

Soos gewoonlik word ek vergesel van Chris Miles as spanmaat wat verantwoordelik is vir die logistiek. ʼn Artikel oor Chris en sy vrou Mariana se betrokkenheid in Indië verskyn in die Kerkbode van 5 September. Ons doen ook op pad aan in Delhi en Dehra Dun waar ons heelwat bedieningsverhoudinge het wat in stand gehou moet word.

Bid vir:

  • Ons veiligheid en vir die beskerming van ons mense tuis
  • Vir die predikante met wie ons ʼn pad loop, dat hulle begeesterd sal wees met nuwe insig in die evangelie.
  • Vir hulle gemeentes wat as gestuurdes in ʼn land woon waar hulle die absolute minderheid is. Dit is húlle wat dissipels van Jesus sal maak waar hulle woon, werk en ontspan.

Groete
Piet Steyn

NS: Ons lewensonderhoud en bedieningskoste is afhanklik van die vrye gawe van gelowiges en enkele gemeentes wat ons passie vir die Koninkryk deel. Dankie dat julle deel is van die span.

Posted in Uncategorized | Leave a comment

[57]






Posted in Uncategorized | Leave a comment

[56] Piet Steyn – Nuus

PietSteyn 140717a

Beste familie en vriende,

Ek wil hierdie nuusbriefie wy aan ʼn oorsig oor die bediening. Volgende keer vertel ek van die gesin en familie en hoe dit met ons persoonlik gaan.

Suid Afrika
Dit is al reeds vir ʼn geruime tyd dat ons besef dat die toerusting wat ons in die buiteland beskikbaar maak van net soveel waarde hier in Suid Afrika sal wees. Ons het al vir baie jare ʼn sterk fokus op dissipelmaking as invalshoek vir ons toerusting en het lankal ontdek dat mense wat gedissipel is soos wat Jesus met sy dissipels gewerk het, in staat is om dieselfde pad met ander te stap. Dissipels van Jesus het ook ʼn Koninkryksvisie en verstaan waar hulle en hulle geloofsgemeenskap in die groter prentjie van die gemeenskap en die wêreld inpas. Die eerste toetslopie was ‘m naweek werkswinkel in Bonnievale – en dit het behoorlik alle verwagtinge ten bowe gegaan! Dankie vir die Bonnievalers uit alle gemeenskappe wat meegemaak het. Die werkswinkel is nou deel van Kingfisher se toerustingspakket en die volgende een word in Namakwaland deur Piet en ʼn kollega aangebied, met net daarna ʼn geleentheid in Robertson wat Piet en Dekseltjie aanbied.

Die buitelandse bediening het die afgelope ses maande veral gefokus op die herskryf en herverpakking van materiaal in samewerking met ons buitelandse vennote in Oos Afrika, Wes Afrika en Indië. Dit bly maar ʼn voortgaande proses. Terwyl ons hulle begelei, kontekstualiseer hulle en van weerskante af leer ons uit die proses. Dit beteken ook dat ons hulle moet “speen” en nie meer elke opleiding gaan aanbied in die buiteland nie – hulle moet self leer doen en uit die ervaring leer. Wat uitstekend gewerk het was om die buitelandse leiers te begelei deur gereelde Skype afsprake. Hierdie afsprake word formeel aangeteken op die program en met net soveel erns en voorbereiding benader as wat ʼn persoonlike besoek sou impliseer. Dit is nie altyd maklik vir die buitelandse leiers om by ʼn internet konneksie uit te kom nie en soms moet ons maar herskeduleer as die internet ons in die steek laat. Ek wil van hierdie manne aan julle voorstel:

  • Samuel Adeleke woon in Dakar en benewens sy gemeentewerk, neem hy verantwoordelikheid vir ʼn groot deel van Wes Afrika, reis op eie koste om die wat opgelei is te begelei, en doen baanbrekerswerk om leiers te help om in ʼn omgewing waar daar baie min Christene is en Moslem ekstremiste dikwels groot dele beheer, te kan voortgaan om dissipels van Jesus te maak.
  • David Ige is ingebed in YWAM in ʼn Franssprekende land in Wes Afrika en gebruik ons toerusing oor disispelmaking om met jongmense onder ʼn mins ge-evangeliseerde groep ʼn pad te loop.
  • Stephen Karibira is ʼn finansiële beampte by ʼn staatsinstelling in Uganda, bedien sy gemeente Sondae, maar staan een naweek per maand af om geestelike leiers op die platteland toe te rus. Die toerusting strek oor ʼn tydperk van twee jaar en hy het meer as ʼn duisend mense toegerus, waarvan sommiges weer ander op hulle beurt gaan toerus het. Dit het ʼn beweging geword wat oor die landsgrense begin spoel het en as vrug kan getuig van gemeentes geplant is in areas waar daar baie min Christene is en baie geweld en bloedvergieting en selfs skole en klein besighede wat tot stand gekom het omdat mense nou anders dink oor hulle verhouding met God en hulle roeping waar die Here hulle geplaas het.
  • Andrew Nganga is ʼn gebedsmobiliseerder vir ʼn groot bedienignsorganisasie in Kenia, maar ook hy is al jare deel van ons span. Hy het al baie leiers van sy eie land opgelei asook geestelike leiers uit Somalië wat skuiling kom soek het in Kenia. Tans fokus hy op die toerusting van jong predikante wat met min opleiding en nog minder ervaring by die diep kant ingegooi is.
  • Anand Lal woon in Noord Indië. Hy het toegang tot ʼn reuse netwerk van inheemse kerkleiers uit Hindoe agtergrond wat klein huisgemeentetjies  onder die radarskerm lei in ʼn gebied waar daar nie baie ruimte is om openlik gemeentes te vestig nie. Dit wat ons aan hom toevertrou, die kontekstualiseer hy en leer dit vir letterlik duisende leiers van klein gemeentetjies.
  • Vachan Bhandari is ʼn senior kerkleier met aansien by die owerheid asook groot denominasies in Indië. Hy maak vir ons deure oop na groepe kerkleiers wat kan baat by ons opleiding.
  • Joseph Bwalya is ʼn dominee van Zambië en saam met sy span rus hy groepe predikante van middelgroote gemeentes toe om hulle gemeentes na buite te fokus.

Al hierdie manne doen hierdie werk uit eie koste en in hulle eie tyd. Hulle is deel van ons span en dink saam en besluit saam oor die koers wat Kingfisher se bediening moet inslaan. Ons is trots op hulle werk en leer baie by hulle. Ek sou baie meer oor hulle wou vertel, maar ter wille van hulle eie veiligheid
Voorbidding:
Piet vertrek DV  saam met ʼn kollega na Indië gedurende September vir die volgende opleidingsgeleenthede:

  • Mumbai – eerste blootstellingsgeleentheid met ʼn groep predikante met die tema Maak dissipels soos Jesus.
  • Goa – Tweede opleidingsgeleentheid met ʼn groep geestelike leiers van verskillende denominasies – die tema is hoe om van ʼn klein dissipelkring te skuif na ʼn dissipelmakende beweging wat met eie momentum voortgaan.
  • Punjab – eerste opleiding in dissipelmaking met ʼn groep geestelike leiers uit Sikh agtergrond.

Ons beplan ook die volgende besoeke vir die res van die jaar en moontlik begin volgende jaar:
Besoek aan Uganda – moontlik in Oktober of Desember met die fokus daarop om Stephen se leierspan verder toe te rus.
Besoek aan Zimbabwe en Zambië – ons hoop om die senior leiers saam te trek vir ʼn vyf dae op ʼn punt waar beide groepe kan uitkom.

Uitnodiging na Brazilië – ʼn groep gemeentes in Brazilië het van hulle vriende in Indië gehoor watter soort toerusting ons aanbied en voelers begin uitsteek. Toe hulle hoor dat Kingfisher destyds ontstaan het as vrug van ʼn sendingweek op Stellenbosch wat deurEdson Queiroz van Brasilië gelei is, kon niks hulle keer nie. Hulle maak geld bymekaar vir die kostes dáár, maar ons sal die fondse moet vind vir die vliegkaartjies.

Ons is vir lewensonderhoud sowel as vir bedieningskostes afhanklik van die vrye gawes van medegelowiges. Vir die moontlikhede hierbo genoem het ons nog nie fondse nie, maar vertrou dat wanneer die tyd reg is, die Here sal voorsien.

Groete

Piet Steyn

Posted in Sendelinge ~ Nuus | Leave a comment

[55] Hans Combrinck – Nuus

http://www.combrinkchronicles.com/home/Jun_14_Afr.html

Liewe vriende,

Baie dankie vir julle getrouheid en toewyding om te bid vir die Kenyah Bybel vertaalprojek.

Beide Kenyah vertalers het die afgelope naweek tyd in die binneland van Sarawak spandeer  om gepubliseerde Skrifgedeeltes in Kenyah  te versprei (Genesis, Eksodus, en Lukas). Die vertalers het ook die geleentheid gebruik om inligting i.v.m. Bybelse kernbergrippe in te samel wat weer die vertaalproses sal verryk.

Hulle het ’n gesprek begin met die oudstes rondom die verskillende soorte geestelike wesens waarin Kenyah mense tradisioneel geglo het (gode, engele, duiwels, geeste, spoke, geeste van die dooies, en die onsterflike siel), waar hulle gewoon het (hemel, hel, die onderwêreld, of die wêreld van die dooies), en hoe hulle onsigbare wêreld sou lyk. Sulke dinge word dikwels vasgevang in tradisionele verhale.

Hulle het ook navraag gedoen hoe Kenyah mense tradisioneel vrede en ewewig met die geestelike wêreld sou bewerkstellig en wat hulle sou doen indien die bestaande harmonie deur menslike mislukking, siekte, of swak oeste ontwrig is. In animistiese kulture bestaan daar dikwels ’n uitgebreide stelsel van offerandes om die geeste en gode te paai en ook allerhande ander euwels in die natuur te voorkom. Dit word dikwels gekombineer – selfs deur Christene vandag – in ‘n mengselmoes van morele en geestelike wette vir korrekte gedrag en vir die regstelling van oortredings.

Bid asseblief vir beide vertalers wat ‘n interdissiplinêre  werkswinkel genaamd “Teologie en Kultuur” gefokus op Bybelse kernbergrippe vanaf 15–25 Junie in Kota Kinabalu, Oos-Maleisië gaan bywoon. Hulle sal daar vergader saam met vertalers wat werk in ander taalgroepe in ‘n forum om gesprek te stimuleer rondom die uitdaging van Bybelvertaling in Maleisië.

Dink ook asseblief in julle gebede aan die konsultant kontrole op die boek Levitikus wat tans uitgevoer word. Bid dat hierdie proses die vertalers sal aanmoedig en sal lei tot ‘n akkurate en leesbare vertaling van die Bybel in Kenyah.

Hans en die vertalers het oor die laaste weke saamgewerk aan die nuwe Kenyah webwerf in Kenyah en Maleis wat nou aanlyn is – gaan kyk gerus by www.kenyah.net! Dit is ’n klein begin, maar deur middel van hierdie webwerf is ons nou in staat om musiek en liedere, die Kenyah woordeboek, en gepubliseerde Skrifgedeeltes beskikbaar te stel. In die toekoms hoop ons om vertaalde Skrifgedeeltes in Kenyah deur middel van die Digitale Bybel Biblioteek op platforms soos YouVersion en BibleSearchbeskikbaar te maak.

Dankie vir julle ondersteuning en gebede,

Hans, Patricia, Lucia, Charlotte, Danielle, Bernard en Anna-Sophia

 

 

Posted in Sendelinge ~ Nuus | Leave a comment

[54] Onthou …

… ‘n Mens kan op ‘n foto klik wat teks in het, dan word dit bietjie groter en duideliker .

Posted in Uncategorized | Leave a comment

[53] Sam Selva Raj – Brief oor die Nehemia Bybelskool en die skoolkinders

New Image nbc 1New Image nbc 2Village School childrenSam 140619b

Posted in Uncategorized | Leave a comment

[52] Sam Selva Raj – Afrikaanse Nuusbrief

Sam 140619

Click to access afrikaans.pdf

Echo 140619

Posted in Uncategorized | Leave a comment